Hierdie is ons getuenis oor vier jaar se moeilike pad stap met God. Ons dogter, Danika was ses toe hierdie storie begin het, vandag is sy amper 12. As baba het sy het nou wel bietjie langer as ander kinders gevat om hare te groei, maar uiteindelik het sy ‘n pragtige bos blonde hare gehad.
So vier jaar gelede kom ons egter agter Danika het kaal kolle op haar kop. Ons gaan sien die dokter en hy skryf behandeling vir ‘n swam infeksie voor. Dinge word nie beter nie en ons gaan sien ‘n dermatoloog wat bloedtoetse laat doen om te sien of daar fout is met haar skildklier. Die toetse is negatief en intussen bly haar hare al hoe yler raak.
Ons kry raad van alle kante. So byvoorbeeld reken iemand dat dit luis sjampoe is. Erens reken ‘n tandarts dis die kwik in haar stopsels en al haar tande met stopsels word getrek. Ons sien ook ‘n Homeopaat en vir ‘n ruk is sy op allerhande druppels maar die hare bly yler raak.
Dit raak naderhand so erg dat sy nie meer skool toe kan gaan onder ‘n kop bedekking nie. Die skool is uiters behulpsaam en laat haar toe om met kepsie skool toe te gaan.
Intussen raak ons bewus van ‘n toestand genaamd Alopecia Areatra. Dis wanneer jou immuun stelsel jou haar folikels as uitheems sien en dit dan aanval. Gewoonlik is dit blykbaar omdat die “identiteit” van die folikels lyk soos ‘n virus wat die liggaam êrens binne gekom het, en dit aanhou beveg. Ons paaie kruis dan ook met een van die land se voorste dermatoloë wat in Alopecia spesialiseer wat weer ‘n baie duur behandeling voorskryf. Hy waarsku egter dat dele van haar kopvel reeds glad is en ‘n teken is van dooie haar folikels. Wanneer dit eers gebeur is die kanse eintlik nul dat hare weer sal groei aangesien daar niks is om vanuit te groei nie. Die behandeling help dan ook nie en uiteindelik kom ons by die punt waar sy letterlik 6 hare op haar kop oorgehad het. Die enigste opsie wat nog oor was, was om kortisoon inspuitings direk in die kopvel toe te dien. Ons besluit egter teen dit weens die enorme pyn wat daarmee gepaard gaan.
Danika neem toe self die besluit om die hare ook af te skeer. Die dag toe sy dit doen toe waai pappa se hare ook. Van toe af begin sy kopdoeke orals heen dra. Ons koop pruike, maar oor die algemeen verkies sy die kopdoeke. Ek dink baie mense het seker gedink “ag siestog, arme kanker lyertjie”. Eventueel raak die wenkbroue en die onderste oogwimpers ook weg. Sy het op die ou end net ‘n paar boonsteoogwimpers oor gehad.
Intussen worstel ons met die hoekoms en die waaroms. Met genade van Bo, besef ons dat ons die antwoorde by God moet gaan soek. Ek worstel deur die hele boek van Job om te probeer verstaan en kry antwoorde wat ek verder aan sal deel.
Een oggend in my kantoor by die werk, terwyl ek weer met God worstel, hoor ek Sy stem as ‘n fluistering dat sy genees gaan word, net op Sy tyd. Van toe af verander ons gebede van genesing asseblief, na dat die genesing asb gou sal kom.
Ons paaie kruis ook met SCIO behandeling. Dit was ook moeilik om te aanvaar dat hierdie  behandeling sou werk en ons moes eers duidelikheid kry van God dat ons dit maar kan doen, en die antwoord was dat haar genesing deur ‘n instrument in Sy hande sal kom. Vir meer as ‘n jaar is sy op hierdie behandeling. Ons sien verandering in haar gemoedstoestand, maar die hare bly weg.
Intussen beleef ons ook die goedhartigheid van
mense. ‘n Vrou in die Kaap kom van haar te hore
en maak vir haar ‘n pruik van egte hare. Sulke
pruike kos R 6 000 plus en ons het nie die geld
gehad nie. Deur haar goedhartigheid word een
van Danika se drome waar en dit is om ‘n pruik van
regte menshare te hê.
Op 4 Desember 2009, op haar tiende verjaardag, besluit my skoonpa om sy huiwering te stop en hy lê die hande op haar en bid vir haar. Hy het nog altyd daagliks vir haar gebid, maar altyd in sy binnekamer. Hierdie was die eerste keer dat hy soveel vrymoedigheid neem.

Nie lank daarna nie begin ons agterkom dat daar iets op haar kop gebeur. Fyn haartjies begin wys. Ons probeer ons opgewondenheid beteuel aangesien dit eenkeer vantevore ook gebeur het, net om toe weer teleurgestel te word. Die hare bly agter groei en stadig maar seker begin dit lyk asof dinge na normaal kan terugkeer. Ons sien ook die wenkbroue en oogwimpers begin terug groei. Vir die volgende ses maande verkyk ons ons aan die wonderwerk wat voor ons oë besig is om te gebeur.
01/01/2010
07/03/2010
23/04/2010
09/11/2009
Ons begin brand om die dag te beleef dat sy weer sonder kop bedekkings in die openbaar sal verskyn, veral skool toe gaan. Dit gaan stadig en ons geduld word maar beproef.  Gedurende die week van 12 tot 19 Junie 2010 gaan hou ons vakansie by Weesgerus oord en vir die eerste keer doen sy alle aktiwiteite sonder iets op haar kop. Wat ‘n voorreg was dit nie om dit te sien nie! Die Sondag van 20 Junie is ook die eerste keer in drie jaar wat sy sonder iets op die kop kerk toe gaan.
Vandag kan ons maar net bely dat ons ‘n groot God dien, ‘n God vir wie niks onmoontlik nie en wat gebede verhoor en Sy beloftes nakom. Danika is genees en ons glo en bely dat hierdie hele gebeurtenis nou agter ons is.
27/06/2010
Ons voel egter dat ons ons storie moet vertel en ook die lesse wat ons geleer het deel, eerstens omdat ons wil teruggee vir God uit dankbaarheid en tweedens omdat ons dit as ‘n opdrag beskou. Ons glo dat ons storie iewers vir iemand dalk troos of berusting sal bring en dalk ook daartoe sal lei dat iemand tot geloof sal kom.

Lesse Geleer op ons Geloofspad.

 Ons Sonde?
Ja dit het gebeur dat ons die vraag gevra het of ons kind gestraf word vir ons sondes. Eksodus 20:5 sê immers dat God die misdaad van die vaders besoek tot aan die derde en vierde geslag van die wat hom haat. Ons moes egter leer dat die Satan, wat die meester is van leuens en die waarheid verdraai hierdie nonsens vir ons prober wysmaak. Efesiërs 6 sê ons moet onsself omgord met die waarheid (‘n deel van God se wapenuitrusting om die bose vyand te beveg).
Die waarheid is dat ons nie God haat nie. Ons bewys dalk nie altyd ons liefde soos wat ons moet nie, maar ons haat Hom nie. En dan begin die tweede deel van Eksodus 20:5 regtig inslaan waar God belowe dat hy sy barmhartigheid bewys tot aan die duisendste geslag van die wat hom liefhet. Daardie
barmhartigheid beteken egter nie maanskyn en rose vir jou hele lewe op aarde nie. Vandag verstaan ons dit dat daar swaar tye gaan kom wat ook deel van Sy barmhartigheid is, juis omdat hy weet wat vir ons vorentoe wag en Hy ons daarvoor wil voorberei. Toe begin 1 Tess 5:18 ook meer sin maak waar ons gemaan word om in alle omstandighede dankbaar te wees. God is besig om sy barmhartigheid te wys! Een aand lees ek Johannes 9 en ek kry verdere bevestiging dat dit nie ons sonde is nie. Meer hieroor later.

 Wanneer ons swaarkry
Ek weet dat alle mense een of ander swaarkry, maar ek deel graag hoe ons ons swaarkry beleef het. Toe ons besluit om die antwoorde by God te gaan soek in plaas van mense, begin ek deur die boek van Job worstel. Hy het as mens darem baie swaar gekry en miskien sou ons antwoorde daar kry.
Die eerste ding wat ons leer is dat God die gewer van alle goeie gawes is. Hy laat wel die slegte toe, maar net so ver dit Sy wil en plan behaag. Die Satan kon niks aan Job doen sonder dat God dit toegelaat het nie. Net so vir ons. Ons leer verder dat wanneer ons dan swaarkry, daar meer as een rede kan wees.
1. Dit kan eenvoudig beteken dat ons getugtig word vir ongehoorsaamheid.
2. Dit kan wees dat ons geloof getoets word.
3. Dit kan ook wees dat God ons ‘n spesifieke les wil leer.
4. Laastens kan dit wees dat Hy ons voorberei vir ‘n rol in Sy kerk iewers vorentoe.

Laat ek dan ook noem dat geen mens hom kan aanmatig om vir enigiemand anders te vertel wat die rede is nie. Daardie antwoorde kan net op een plek gesoek word en dis by God. Vir ons het Hy laat verstaan dat dit ‘n kombinasie is van 2, 3 en 4. Terloops, as jy nog nie weet nie, Hy doen dit deur die Heilge Gees wat ons leer en vertroos en wat ook by God intree vir ons wanneer ons nie ons gebede in ons harte in woorde kan omsit nie.

 Naaste raad
Gedurende hierdie tyd het ons baie raad ontvang van mense om ons. Ek kan regtig sê dat raad van familie, vriende en ander altyd goed bedoel was, maar goedgedoelde raad is nie altyd God geinspireer nie. In Job leer ons dat sy vriende ook dinge goed bedoel het, maar dat Job die regte antwoorde net
vanaf God gekry het. Die punt is dit, naastes se bedoelings is goed, net soos Job se vriende, en hier word nie gesê dat hulle raad in die wind geslaan moet word nie. Nee slegs dat wat ookal gesê word, getoets moet word by God en wat Hy daarvan te sê het.

 As ek kwaad word
Ek kan ook erken dat daar tye was dat ons kwaad geword het. Kwaad vir sekere kinders se harteloosheid, maar ook kwaad vir God. Ek onthou een spesifieke geval waar ons by Bakgatla in die Pilansberg gekamp het. Daar was een spesifieke kind wat regtig naar was met haar, en ons het met woede reageer, woede omdat die kind so lelik was, maar ook woede omdat God toegelaat het dat ons situasie so was dat so iets eenvoudig sou gebeur.
Uit Jesus se lewe (veral toe hy die geldwisselaars uit die trempel gejaag het) leer ons dat woede ‘n emosie is wat almal ervaar. Die les is egter hoe jy daardie woede kanaliseer. Daar is dus ‘n regte en verkeerde reaksie op woede.
Paulus waarku ons in Ef 4:35 om nie te sondig as ons kwaad word nie. In dieselfde Efesiers (vers 6) word ons vertel om in alles ons begeertes met gebed, smeking en danksegging aan God bekend te maak. Ons reaksie was dus om vir God te gaan sê dat ons kwaad is. Ons is kwaad omdat ons verstaan dat daar ‘n spesifieke plan is met haar siekte, maar dat ons nie die ongevoeligheid van ander waardeer nie.

Die lesse is:
 Ons kan met enigiets na God gaan.
 Daar is egter ‘n regte en verkeerde manier en Ef 4:6 leer ons hoe watdie regte manier is.

Nadat ons tot God genader het, het Hy die antwoorde gegee. Ons was herinner aan sy beloftes en Hy het ons ook geleer om ons kind te leer hoe om dan te reageer. Elke keer was dit om die positiewe raak te sien. So byvoorbeeld was ons antwoord dat wanneer sy kla sy het nie beenhare nie, dat sy daaraan moet dink dat sy nie nodig het om te skeer nie, iets wat ander van haar ouderdom partymaal nie baie geniet nie en eintlik wens dat hulle nie hoef te skeer nie.

 Goddelike denke vs Wêrelddenke
Vroeg reeds in ons pad het ‘n gelowige raad met groot impak gegee deur vir ons vertel dat maak nie saak wat wie sê nie, ons moet vashou aan ons hoop en geloof dat Danika genees sal word, al doen ons dit tot die dag wat ons ons laaste asem uitblaas. Dit is ook so reg in lyn met wat ons geleer het uit Job
se vriende. So gebeur dit dan dat een van die voorste spesialiste in die land vir ons vertel dat as die kopvel eers glad is, dit ‘n aanduiding is dat die haar wortels dood is en daar eintlik geen kans is op genesing nie.
Rom 12:2. sê: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is”
Dit het ons geleer dat ons kan kies om oor te gee aan die denke (en gevolglike sienings) van hierdie wêreld, of ons kan kies om God op Sy beloftes te herroep. Dis dan wanneer mens kies om daardie stem wat net jy in jou kantoor gehoor het, te glo eerder as die harde stem van die wetenskap.

 Kerkwees
Gedurende ons beproewing het ons so klein smakie gehad van wat dit is om kerk te wees. Ons het kerk ervaar op verskeie maniere. Een manier was waar Danika se dansgroep, waarvan sy deel was, almal met dieselfde kopdoeke opgetree het tydens ‘n geleentheid by ons kerk. Gal 6:2 sê “Dra mekaar se laste….” en hierdie is een beduidende geleentheid waar ons dit ervaar het. Ons het ook geleer dat ons boeties en sussies oor kleurgrense heen het. ‘n Swart kollega by my werk het van ons storie te hore gekom, en ewe skielik is ‘n kerk in Tsakane besig om ook vir haar te bid. Dit het ons geleer dat God se kerk nie beperk is tot ‘n spesifieke gebou, plek of area nie, maar dat Sy kerk op aarde gedeel word deur almal wat glo in wat Jesus vir ons kom doen het. Ons kan verskil oor baie dinge in die Bybel, en
eendag sal ons weet wie is reg, maar intussen verskil God se kerk nie oor Jesus nie en deel daarvan is om vir mekaar om te gee. Hoe intens het ons dit nie ervaar by mense wat volgens wêrelddenke bedoel is om niks met ons te doen te hê nie. Vandag sien ons nie mense op grond van hulle kleur nie, maar
op grond van wat hulle glo.

 Gawes
Paulus het baie te sê oor gawes van die Heilige Gees en hoe daardie gawes as lede van een liggaam in die kerk van Christus toegepas behoort te word. Veral 1 Kor 12 het baie hieroor te sê. Ons het nogal heelwat meer ook begin verstaan hieroor en ek lig graag twee uit. Ons hoor nogal baie van ontdek jou gawe. Ons kan nie dit wegredeneer dat die Heilige gees aan ons gawes toeken soos Hy goeddink vir gebruik in die kerk nie. Elkeen van ons as lede van die kerk moet ons daarom toespits om ons gawe te ontdek. Baie maal gebeur dit dat daardie gawe ontdek word amper per ongeluk. Niks gebeur egter per ongeluk wanneer dit by God kom nie, en daarom glo ons vandag dat sulke gebeurtenisse soos dié bydra dat God se kinders hulle gawes ontdek. So byvoorbeeld het ek geleer dat my gawe is om te kan onderrig. Daarom is dit my plig en voorreg om ‘n omgeegroep te lei asook ‘n kategese groep. My skoonpa het weer sy gawe van genesing ontdek. Sy gawe in besonder beteken nie dat hy nou net links en reg mense kan genees nie, maar dat sy gebede besondere krag dra wanneer hy mense die hande oplê en opreg vir hulle besondere kwaal bid.

 Johannes 9
Ek het vroëer genoem dat ons bevestiging uit Johannes 9 gekry het dat haar kondisie nie as gevolg van ons sonde is nie. Nog minder was dit as gevolg van haar sonde. Johannes 9 het ons egter meer as dit geleer. Toe ek die deel lees waar Jesus in Joh 9:3 sê dat die blinde man se blindheid is sodat die werke wat God doen in hom gesien kan word, het ons ‘n paar nuwe dinge geleer. Eerstens het dit bevestiging gebring dat wat met Danika gebeur, deel is van God se groot plan, asook bevestiging dat haar genesing sal kom. Verder was die boodskap dan ook duidelik dat wanneer daardie genesing kom, ander die werke van God in haar gaan sien, en voortspruitend daaruit sal ander tot geloof kom. Ons gaan miskien nie die voorreg beleef om dit te sien gebeur nie, want ons weet nie wie almal deur hierdie getuienis of kontak met haar aangeraak gaan word nie, maar ons glo en bely dat God hierdie storie op een of ander manier gaan gebruik om iemand of ander tot geloof te lei. Johannes 9 spel dit egter ook duidelik uit dat baie hulle blind gehou het vir die waarheid. Dit is ons gebed dat mense hulle nie sal blind hou vir die absolute wonder van haar genesing en dat dat daar geen wetenskaplike verklaring daarvoor bestaan nie. Mag hulle wat alles wetenskaplik probeer verklaar, hierdeur tot ander insigte sal kom.

‘n LAASTE GEDAGTE

Ek kry op ‘n dag ‘n SMS wat die volgende sê: “As God ploeg, beplan Hy om te plant & te oes uit die grond wat Hy voorberei. As jy soms die ploegskare deur jou lewe voel skeur, weet God werk aan ‘n Groot oes”
Dit het my herinner aan Jeremia 29:11 “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting” Ons les daaruit is dat daar wel moeilike tye in ons lewens gaan wees. Partymaal bring ons dit oor onsself, ander kere is dit deel van God se plan.
Hy is egter nog altyd in beheer en sal die bose nooit ooit die oorhand kry. Al God se kinders gaan een of ander tyd moeilike tye beleef. Onthou dan om Hom op te soek en die antwoorde by Hom te kry, maak nie saak wat wie wat ookal vir jou prober vertel nie. Slegs dan sal jy effektief die aanslae van die bose kan weerstaan en sin maak uit wat met jou gebeur.

Mag ons getuienis jou aanspoor om jou verhouding met die lewende Vader te verdiep, of as jy nog kies om te glo dat daar nie ‘n God is nie, dat ons storie
jou tot ander insigte sal bring.

As laaste gedagte haal ons graag Rom 11: 33 – 36 aan as ons lofprysing en danksegging aan ons lewende en alwyse Vader.

“O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë. Wie ken die bedoeling van die Here en wie gee Hom raad? Wie bewys Hom ‘n guns sodat Hy verplig is om iets terug te doen? Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen!”
Wanneer God ploeg...